Quo vadis Triticum?
Het koring nog ’n plek in die landbou-waardeketting?
Koringproduksie in Suid-Afrika is reeds vir die afgelope dekade in die hoë sorg-eenheid van die Landbou hospitaal. Oor die bedryf se krisis-situasie het die media verskeie kere oor geskryf en die onderwerp is op verskeie forums en kongresse bespreek.
As een skakel in die landbou-waardeketting moes wegval, kan dit die totale bedryf kelder (Agri SA). Elke rolspeler in die landbou-waardeketting is belangrik, en moet na omgesien word (Johannes Möller). Suid-Afrika se landbou-waardekettings staar verskeie kritieke uitdagings in die gesig, soos 'n ongelyke handelsomgewing, agro-logistiek, waterkwaliteit, elektrisiteitstariewe, wisselkoerse, verswakkende landelike infrastruktuur en arbeidstakings (Dr. John Purchase, bestuurshoof van die LBK).
As van die knelpunte en uitdagings nie suksesvol opgelos word nie, sal die mededingendheid en winsgewendheid van verskeie waardekettings toenemend verswak, soos met die koring-, katoen- en grondboonbedrywe reeds gebeur het.
Die Suid-Afrikaanse koringmark (vraag en aanbod) kan as volg beskryf word:
Die binnelandse aanvraag na koring is ongeveer 3,2 miljoen ton per jaar en die graan word deur meulens oor die hele Suid-Afrika gemaal. Die grootste maalkapasiteit is naby Johannesburg, Durban, Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth waar hoofsaaklik vier groot private maatskappye 85% van hierdie meulens besit.
Nagenoeg 3 500 koringboere verbou binnelands 50% (of 1,7 miljoen ton) van hierdie koringaanvraag. Ongeveer 50% van dié 1,7 miljoen ton word in die Wes- en Suid-Kaap verbou, 30% in die tradisionele besproeiingsareas en 20% in die Vrystaat droëlandgebiede.
Die res van die aanvraag na koring word deur plaaslike meulenaars “geproduseer” met die hulp van buitelandse koringboere per skeepsvragte deur een van die hawens. Die bronne van kommer in die scenario is dat Suid-Afrika tans meer produkte invoer as wat dit uitvoer. Dit beteken daar is geleenthede in die plaaslike bedryf om te ontwikkel.
Ongeveer 70% van die koringproduksie in Suid-Afrika is onder droëlandtoestande. Plaaslike produsente kan weens wisselvallige winter- en somerreënval nie met hul oorsese eweknieë meeding wat opbrengste van veral koring, betref nie. Die klimaat speel egter ’n positiewe rol om van die beste graankwaliteit te produseer. Danksy navorsing en teling is Suid-Afrikaanse koringkultivars se kwaliteits-eienskappe van die beste. Verder is plaaslike produsente van die doeltreffendste ter wêreld as opbrengs per millimeter reën (of water) vergelyk word. Droëlandboerdery benut grondwater wat in in die profiel opgegaar word tydens reënval in die braakperiode. Water is in die scenario werklik geld werd.
Die koringboer staan dus aan die begin van die waardeketting van koring – die eerste skakel – om ’n graanproduk as grondstof te produseer.
Die Winsgewendheid van die bedryf en ook volhoubaarheid is gelyk aan opbrengs per hektaar, teen die markprys per ton, minus die produksiekoste per hektaar met vaste bokoste/administrasiekoste wat ook in ag geneem moet word. Dit is die balle wat die produsent in die lug moet hou om suksesvol ’n oes te lewer in die verbouingsomgewing waarin hy geleë is. Die eerste mikpunt is die gelykspeelpunt wat alle kostes dek, maar nie wins genereer vir die boerdery nie. Wins is die rendement vir die risiko’s geneem met jou kapitaalbelegging, sonder ’n billike wins is die aantreklikheid van die bedryf dus onder druk.
Die invloed van die JSE-termynkontrak op die fisieke koringmark in SA, asook die gebruik van die JSE-verwysingspunt en -vervoerkoste na die verwysingspunt bly ’n belangrike en teer punt van bespreking as dit by koringprysvastelling kom. Op die ou end kry die koringboer ’n vasgestelde basisprys vir sy produk waarmee hy die somme moet laat klop.
Volgens Graan SA (2019) is die gelykspeelpunt (direkte en vaste koste) vir plaaslike koringprodusente tans 2,8 ton/ha vir die middel Swartland en 2.652 ton/ha vir droëland in die Oos-Vrystaat gegewe die huidige koringprys op die JSE-termynmark.
Die keuse van die geskikte kultivar wat die opbrengspotensiaal het om die opbrengste te lewer en wins te maak, word dus ’n kritieke besturusbesluit. Verder word insette soos werktuie, brandstof, kunsmis en oesbeskermingsmiddels ingevoer, en die swak en wisselvallige rand veroorsaak dat plaaslike insette relatief duurder is as dié van hul oorsese mededingers.
‘Doen wat jy kan wanneer jy dit moet doen‘.
Die navolging van die beste agronomiese bestuurspraktyke, regte bewerkings, kultivarkeuses en beste bestuursopsies is nie onderhandelbaar nie en sal risiko’s van die klimaat en omstandighede tydens die groeiseisoen op opbrengs sovêr moontlik beperk.
Vir die koringboer is die verdere skakels van die waardeketting minder belangrik, omdat aanvraag die aanbod tans oorskry, en die mikpunt is om maksimum tonne ekonomies haalbaar te produseer. Die verandering in verbouingvoorkeure en wisselbou-stelsels in die produksiegebiede het die seisoen ook na vore gekom. Weens die droogte in groot gedeeltes van die somerreëngebied, is someraanplantings afgeskaal, wat die ruimte laat vir koringproduksies op oorlê lande. Die behoefte na koringsaad wat ontstaan het as gevolg hiervan, het beskikbaarheid oorkry. Saadbeskikbaarheid vir veral droëlandkultivars het oor die jare afgeneem met die verskuiwing in hektare na somergewasse en saadproduksie vir die kleiner mark is ook afwaarts aangepas.
Koring sal altyd ‘n opsie bly in gebalanseerde wisselbopu-stelsels, alhoewel ontwikkeling en saadbeskikbaarheid van die beste genetika vir die gebiede, ’n uitdaging sal bly.
Article source: www.landbou.com
https://www.netwerk24.com/landbou/Bedrywe/Akkerbou/koring-mark-is-vol-gebreke-20170914