KNOWLEDGE CENTRE defBanner


Sensako kry hupstoot in nuwe omgewing

Sensako belê nou noemenswaardig in somergewasse maar wil in Suid-Afrika sy voorste posisie in koring handhaaf.

Saam met ander voordele wat die oorname deur Syngenta meebring, word Sensako se produksiegeriewe opgegradeer en aantal navorsers vermeerder, sê Sensako se hoof in Suider-Afrika, Kobus Lindeque. Tydens ‘n inligtingsbesoek vir landbouskrywers aan Sensako se navorsingsplaas Marné buite Bethlehem het bestuurslede van Syngenta en Sensako vertel wat die toekomsplanne is ná die oorname van Augustus 2020.

Die insluiting van Sensako het vir Syngenta groot veranderinge en ‘n verbetering van produkte en dienste in Suid-Afrika meegebring, sê Antonie Delport, hoof van Syngenta in Suid-Afrika en van strategiese vennootskappe in Afrika en die Midde-Ooste. Syngenta belê in oplossings wat tot voordeel van produsente is sodat landbou volhoubaar kan wees. Syngenta glo dat landbou in die voorste linie staan teen klimaatsverandering se gevolge.

Danksy Sensako as gevestigde handelsmerk se markaandeel en kiemplasma hoef Syngenta nie ‘n nuwe teelprogram vir koring in Suid-Afrika van stapel te stuur nie. As teenprestasie kry Sensako toegang tot Syngenta se internasioanle kiemplasmabank. Dit voeg baie waarby by in Sensako se teelprogramme. Weens Syngenta se uitstekende genetika in ander gewasse soos sonneblom, gaan Sensako se beeld van hoofsaaklik ‘n koringteler ook verander, sê mnr Lindeque. Die maatskappy wil egter sy markaandeel en voorste posisie met koring behou.

Sensako gaan voort met die ontwikkeling van koringkultivars en sal steeds op verhoogde opbrengs, maal- en bakkwaliteit Sensako belê nou noemenswaardig in somergewasse maar wil in Suid-Afrika sy voorste posisie in koring handhaaf. klem lê sodat produsente se winsgewendheid kan verbeter, sê Pieter Craven, Sensako se verkoops- en bemarkingsbestuurder. Syngenta is een van die wêreldleiers in basterkoring se tegnologie en dit kan saam met ander tegnologie vir Suid-Afrikaanse koring benut word. Kultivars se stabiliteit en wye geografiese aanpasbaarheid, aanpassing by verskillende plantseisoene en weerstand teen stremmings soos siektes, plae, hitte en droogtes is steeds ‘n fokus in teling, sê mnr Craven. 

Andries Wessels, bestuurder van Sensako se ontwikkeling van saadprodukte, sê die kerneienskap van gewasse is die aanwending van elkeen se unieke tegnologie. Wat sojabone betref het Syngenta toegang tot die beste kiemplasma ter wêreld. Dit is ‘n baie mededingende mark met verskeie rolspelers en Sensako gaan op die ontwikkeling van enkele gespesialiseerde kultivars fokus.

Vir sojabone se glufosaatweerstand word Roundup Ready-2 sonder opbrengsprobleme nou ontwikkel terwyl ‘n droogtegeen wat uit sonneblom ontwikkel is ook voordele aan Suid-Afrikaanse produsente gaan bied. 

Sensako betree die sonneblommark danksy Syngenta se kiemplasma met besonder hoë olie-inhoud. Die toekoms van sonneblom berus volgens mnr Wessels in oliepersentasie, wat tot dusver ondergeskik was aan opbrengs. Geselekteerde boere met kennis van sonneblom is reeds in ‘n loodsprojek gekontrakteer om die kultivar SY3970CL te plant. Dié kultivar het die potensiaal om 50% olie te lewer en produsente kan ‘n premie op oliepersentasie ontvang. 

Mielies is deel van die Sensako-ontwikkeling en hulle teiken tradisionele mieliemarkte, sê Roean Wessels, teler van somergewasse. Produsente kan kultivars kry met die Viptera 3-geen om snywurm te beheer. Syngenta het die stapelgeen Agrisure Viptera ontwikkel met omvattende weerstand teen insekte soos stronkboorders en kommandowurm, waarin die tegnologie van Mon89 en Mon 810 ingesluit is om ook te beheer. 

Om al hierdie ontwikkelinge te kan akkommodeer gaan Sensako sy navorsingsgeriewe by Bethlehem en Napier uitbrei. Dit sluit die aanstelling van wetenskaplikes en verkryging van nuwe toerusting in, asook die vergroting van geriewe soos die saadbehandelings- en verpakkingsaanleg by Bethlehem. 

Nadat die saadaanleg by Sensako se Oos-Vrystaatse proefplaas, Marné, in 2016 in gebruik geneem is het die verwerkingsaanleg 600 m2 en opbergingsgeriewe 2 500 m2 beslaan. Dit is intussen vergroot en moet volgens Braam van Straten, bestuurder van Sensako se saadproduksie in die noorde, binnekort in oppervlak verdubbel word.

Download Article