Sensako-besproeiingskoring presteer in die Noord-Kaap
Waterbestuur, waaronder besproeiing, en bemesting is twee bepalende faktore wat koste betref en uiteindelik oesopbrengs bepaal, en dus kan dit nie afgeskeep word nie. Koringboere het nie beheer oor die klimaat, temperatuur en reënval nie. Hulle kan wel die produksie-omgewing bestuur deur hoë-opbrengskultivars te kieswat goed vir ’n spesifieke omgewing aangepas is. Dié kultivars dra by tot die boer se winsgewendheid en verhoogde voedselproduksie. Sensako se teelprogramme vir besproeingskoring in die Noord Kaap is toegespits op aspekte wat die boer in staat sal stel om hoër opbrengste te genereer. Die maatskappy gebruik nuwe teeltegnieke, genetiese materiaal, verbeterde agronomiese praktyke en kyk ook na die geskiktheid van die kiemplasma in die toepassing van presisieboerderypraktyke. Die teelprogram lê klem op opbrengs, stabiliteit, aanpasbaarheid, staanvermoë, siekteverdraagsaamheid en graangehalte. Verbeterde stoelvermoë van besproeiingskultivars geniet ook aandag. Sensako gebruik dubbelhaploïed-teeltegnieke wat die teelproses versnel en die moderne graangehaltelaboratorium toets nuwe teellyne vir graan-, maalen bakeienskappe. As deel van Syngenta het Sensako nou ook toegang tot materiaal uit baie ander wêrelddele wat plaaslik getoets en aangewendkan word.
Die toepassing van merkergebaseerde tegnologie verbeter die evaluering en insluiting van genetiese kiemplasmabronne. Sensako skakel met organisasies wêreldwyd om die jongste weerstandsgene teen die heersende en verwagte aar-, wortel en blaarsiektes van kleingrane te bekom wat in kruisingsblokke gebruik word. “Ons lê nie klem op enkelgeenweerstand teen ’n siekte nie, maar op verskeie gene wat die hele spektrum raak,” sê mnr. Kobus Lindeque, bestuurder van Sensako. Opbrengs is een van die belangrikste aspekte wat boere se besluit beïnvloed om ’n kultivar deel van hul pakket te maak. Sensako se produkte word ontwikkel binne die beginsels van vooruitgang deur navorsing en alle nuwe produkte word eers deeglik in navorsings-, laboratorium- en veldtoestande getoets voor dit op die mark geplaas word. In dié proewe word Sensako se produkte teen sy eie, ander maatskappye en die markleier in die segment getoets.
Proewe
Sensako het die afgelope drie jaar talle proewe in verskeie gebiede reg oor die Noord-Kaap aangeplant. Aangesien omgewingstoestande wissel van een jaar tot ’n ander word meerjarige proewe gedoen om die kultivars se aanpassing en stabiliteit te bepaal. Die vewerkte resulate toon dat SST8205 die beste gevaar het in die Douglas-omgewing, met SST8156, SST8175, SST8135 en SST806 kort op sy hakke. SST8205 sal volgende jaar kommersieel beskikbaar wees, maar dit is goed om nou reeds kennis te neem van die kultivar se besondere prestasie. In die Orania-omgewing het SST8205 ook met die louere weggestap. SST8175 het die tweede plek behaal, gevolg deur SST835. n die Prieska-omgewing was SST8205 ook die toppresteerder met SST8135 en SST895 in ’n naby tweede en derde posisie.
Produkte
Sensako beveel die volgende produkte aan vir ’n pakket met goeie risikoverpreiding: SST8156 is ’n nuwe besproeingskultivar met ’n medium groeiperiode wat wyd aangepas is vir vroeë en middelseisoenaanplantings. Dit is die ideale plaasvervanger vir die ou staatmakers SST806 en SST875. Dié nuwe semi-dwergtipe kultivar het goeie weerstand teen uitloop en omval en toon matige weerstand teen stam- en geelroes. In die 2020-proewe by Douglas het dé kultivar uitgestaan met ’n opbrengs van bykans 11 t/ha. SST 895 is een van Sensako se topprodukte met uitstekende opbrengspotensiaal en goeie graangehalte. Dé medium tot kort groeiperiode-kultivar is aangepas vir die warmer en koeler besproeiingsgebiede.
Dit bied uitstekende weerstand teen omval danksy sy soliede stameienskap en het ook ’n uitstekende wortelstelsel wat die opname van water en voedingstowwe bevoordeel. Dit is verdraagsaam teen grondgedraagde siektes en het die Stay Green eienskap wat bekend is daarvoor dat dit meer droogteverdraagsaam is met ’n goeie kapasiteit vir fotosintese. Dit is goed aangepas vir middel en laat aanplantings. SST8205 is die nuwe, hoë-potensiaal semi-dwergkultivar in die Sensako-pakket. Dit is wyd aangepas, wat dit geskik maak vir alle besproeiingsgebiede. As ’n medium tot kort groeiperiodekultivar kan dit gebruik word vir middelseisoen- en laat aanplantings. Dit is verdraagsaam teen fusarium-aarskroei en het ’n goeie staanvermoë en graangehalte. SST 884 is nog ’n toppresteerder in Sensako se koringstal en is aangepas vir die warmer en die koeler besproeiingsgebiede. SST 8135 is ’n hoëpotensiaal semi-dwergkultivar met ’n medium tot kort groeiperiode – ’n nuwe wenner vir alle besproeiingsgebiede met puik graangehalte wat in die middel- of laatseisoen aangeplant kan word. Dit bied ’n uitstekende opbrengspotensiaal, het goeie staanvermoë, is met tolerant teen fusarium-aarskroei en bied weerstand teen geelroes.
In verlede jaar se Douglas-proewe het dié kultivar se opbrengs net onder 10t/ha gedraai. SST 8154 is ’n nuwe opsie met goeie graangehalte. Dit het ’n baie hoë opbrengspotensiaal en val in die kort groeiperiode-groep. Dit is verdraagsaam teen fusarium aarskroei en toon ook matige weerstand teen blaar en geelroes. Dit bied uitstekende weerstand teen uitloop en val nie om nie. Dit is aangepas vir aanplantings in die middel en laatplanttyd. SST8175 is ’n nuwe medium groeiperiodekultivar met baie goeie opbrengspotensiaal wat in vroeë tot laat aanplantings aangeplant kan word. Dit het ’n baie goeie opbrengspotensiaal wat ’n goeie opbrengs met goeie graangehalte beloof. Die semidwergeienskap bied goeie stoel- en staanvermoë.
NAVRAE: Mnr. Pieter Craven, 082 388 0299.