KNOWLEDGE CENTRE defBanner


Op soek na goud met dubbele koringoes

Krediet: Landbouweekblad

’n Oos-Kaapse saaiboer is vasbeslote om sukses te behaal met die verbouing van winter- én somerkoringgewasse op sy plaas. Mnr. John O’Mullane verduidelik wat hom motiveer en wat sy plaasproewe hom geleer het om dubbel die beloning uit hierdie gesogte en waardevolle landboukommoditeit te kry.

ngeveer 50 jaar gelede was die Noordoos-Kaap na wat berig word ’n groot produsent van droëlandwinterkoring vir Suid-Afrika. Die geleidelike afname in winterreënval oor die daaropvolgende dekades het egter tot onvoldoende grondvog gelei om die plaaslike koringgewasse deur die droër wintermaande tot die oestyd te onderhou. Gevolglik het die meeste van dié streek se saaiboere opgehou om koring te plant. ’n Saaiboer van Maclear, mnr. John O’Mullane, sê met die koms van winterkoringkultivars wat spesifiek vir produksie onder besproeiing geteel is, is die bordjies verhang.

Die geleidelike herlewing van plaaslike winterkoringproduksie het sowat tien jaar gelede begin toe meer van sy mede-saaiboere in besproeiingstelsels belê het om gedurende die winter opgegaarde waterbronne te benut. Dit het hulle in staat gestel om, in wisselboustelsels met hul somermielies en sojaboongewasse, verdere inkomste te verdien uit saailande wat voorheen gewoonlik in die winter braak gelê het.

“Omdat ons die gebruik van ons besproeiingsinfrastruktuur wou vermeerder, het ons in 2015 winterkoring in wisselbou met somermielies en sojabone begin plant,” vertel O’Mullane. “ ’n Struikelblok was om geskikte, vinnig groeiende mieliekultivars te vind wat ons einde Desember kon plant en wat Junie gereed sou wees om te oes. Dan sou ons amper dadelik daarna, teen einde Junie of begin Julie, koring kon plant om dit in Desember te oes.”

Die verbouing van winterkoring onder besproeiing was iets nuuts vir O’Mullane Bros. Daarom was die aanvanklike opbrengs van 4-4,5 t/ha minder as optimaal. Die lesse wat dié boerdery-onderneming sedertdien geleer het, is gebruik om die bestuur en opbrengs van die winterkoringgewasse geleidelik te verbeter, sodat die gemiddelde koringopbrengs nou wissel van 7-9 t/ha. Dit het onder meer behels die keuse en gebruik van toenemend geskikte winterkoringkultivars, verfynde tydsberekening en die regte hoeveelhede van kunsmistoedienings, besproeiing en gewasbeskermingsprodukte. Winterkoring het die afgelope drie jaar O’Mullane Bros se hoofbesproeiingsgewas geword wat die bruto marge van sy oeste betref.

O’Mullane se voorkeur-winterkoringkultivars is tans Sensako SST 895 en SST 884. SST 895 is ’n matige groeitydperk-kultivar wat vir vroeë en laat aanplantings aangepas is, en SST 884 is ’n middel-tot-kort-groeitydperk-kultivar, aangepas vir laat aanplantings. Dié groeitydperke is tans die beste geskik om in te pas by O’Mullane se tipiese somer- en wintergewas-bestuurstrategie.

“Omdat ons só laat mielies moet plant nadat ons winterkoring geoes is, is ons mielie-opbrengste nie so goed as wat dit behoort te wees nie. Ons het onlangs gehoor die plant van sonneblomme ná koring is moontlik ’n beter opsie as mielies vir tydsberekening, en sal dit in die afsienbare toekoms oorweeg.

"Ons wil ook ophou om koring en mielies direk ná mekaar te plant, want albei is grassoorte en kan bevolkings en besmetting met swamsiektes, soos Fusarium, bevorder. Om winterkoring met breëblaarsonneblomme af te wissel, kan help om plaag- en siektesiklusse by albei hierdie gewasse te verbreek.”

DIE REGTE WISSELBOUSTELSEL

As O’Mullane vroeër winterkoring kan plant omdat hy sonneblomme vroeër kan oes, kan die koring einde November geoes word. Daarna kan sojabone geplant word. Sy wisselbou van somergewasse sal afhang van hoe vroeg of laat die voorafgaande winterkoringoes geplant en geoes is.

O’Mullane Bros begin sy winterkoring oes wanneer die staande graan se voginhoud 18-20% is. Meulenaars wil nie koringgraan met ’n hoër voginhoud hê nie, aangesien dit hul eie afdroogprosedure bemoeilik. As dit tydens die O’Mullanes se koringoestyd reën, neem die graan se voginhoud toe en moet hulle wag totdat dit weer afdroog voor hulle verder kan oes. Dit verlaag die koringgraan se gehalte.

Met Maclear se hoë somerreënval het winterkoringboere ook die probleem dat natgereënde staande graan in die aar begin ontkiem. Dit verlaag die graangehalte aansienlik. Weens die lae prys wat die boere dan daarvoor kry, verloor hulle baie geld. Dit is dus noodsaaklik dat Maclear se winterkoringboere so vinnig moontlik hul oeste inbring. Die O’Mullanes verkoop hul hele koringoes aan ’n meulenaar in Kokstad, sowat 200 km daarvandaan.

Gedurende die somer, tussen sy eerste paar seisoene met winterkoring, het O’Mullane gesien dat opslagkoringplante wat uit gemorste saad of geoeste koring ontkiem het, sterk gegroei het in die kontoere langs die landerye waar somergewasse verbou word. Dié koringplante het gegroei soos hulle in die winter in ’n bestuurde gewasland sou, en elkeen het uiteindelik are vol graan gelewer. “Ek het myself toe afgevra waarom ons nie ’n tweede kommersiële koringoes kon verbou nie, maar hierdie keer in Desember of Januarie. As dit suksesvol was, sou dit ’n ekstra inkomste vir ons onderneming beteken. 

Ek het dié idee begin ondersoek en uitgevind die produksiekoste sou laer wees as vir winterkoring omdat baie minder besproeiing nodig sou wees vir ’n somerkoringoes.” Sy landboukonsultante was bekommerd dat die somerkoring nie goed sou ontkiem en syhalms ontwikkel nie weens die hoër temperature van dié seisoen. Met inagneming daarvan, maar steeds gretig om te sien wat dit sou oplewer, het O’Mullane in die eerste week van Januarie 2019 ’n plaasproef van 10 ha met Sensako se SST 884-kultivar aangeplant as ’n somerkoringoes. Hy het opgemerk hierdie aanplanting het binne vyf tot sewe dae “perfek ontkiem”, gevolg deur bevredigende syhalmontwikkeling. O’Mullane het egter opgemerk die daaropvolgende groei van hierdie koringplante het aansienlik oneweredig oor die proefland geword. 

Grondmonsters is uit elk van die “goeie en slegte kolle” geneem. Ontledings het getoon die slegte kolle het baie hoë grondsuurversadigings van ongeveer 40% gehad, vergeleke met die 20%-suurversadigings van die goeie kolle. Volgens O’Mullane is selfs laasgenoemde syfer steeds ongewens hoog vir koringproduksie. Hy het hierdie aanvanklike proef vir ’n opbrengs van ongeveer 6 t/ha bemes, en die uiteindelike opbrengs was 3-3,5 t/ha.

DIE BITTER SMAAK VAN GRONDSUURHEID

O’Mullane se konsultasies met Sensako se koringkultivarkenners het aan die lig gebring dat grondsuurversadigings ’n belangrike beperkende faktor vir somerkoring is. Hy het ook geleer die “lente”-klas – in teenstelling met die droëland-winterklas – van koringsoorte kan ontkiem in grondtemperature wat wissel van 4 °C tot 25 °C, hulle kan aktief in bogrondse temperature van 5 °C tot 43 °C groei, en hulle sal bestuif by temperature tot 34 °C.

“Hierdie temperatuurreekse is tipies van ons somers hier in die Noordoos-Kaap. Ons plaas se reënvalrekords op lang termyn het getoon dat hoewel reënval in Oktober, November en Desember goed is, dit nie konsekwent is nie. In Januarie, Februarie en Maart kry ons egter minstens 100 mm per maand, wat taamlik eweredig versprei is.” Benewens sy proef se suurheidsprobleme het O’Mullane gesien hy moet die tydsberekening van die toediening van stikstofbemesting verbeter in die syhalmontwikkelingfase, asook net voor die opkoms van elke koringplant se vlagblaar.

Sy proefwaarnemings en terugvoer van koringtelers het getoon dat aangesien die groei van koring verband hou met opgehoopte temperatuur oor die tydperk tussen elke mylpaalfase, die proef se plante in die warmer somermaande baie vinniger gegroei het as in die baie koeler wintermaande. Dit het daartoe gelei dat die bogrondse groei van die proef se plante uiteindelik die groei van hul wortelstelsels te veel oortref het. Die wortels is uiters belangrik vir die opname van vog en voedingstowwe uit die grond om die bogrondse groei te handhaaf.

Gelukkig het die temperature in Maart en April begin afneem en die bogrondse groei van hierdie plante het drasties begin afneem sodat die wortels effens kon inhaal. Die tempo van graanvulling is gunstig vertraag om die maksimum graanvulling van elke koringaar moontlik te maak.

Met die lesse van sy proef in gedagte, het hy van 12-28 Januarie vanjaar ’n kommersiële oes van 150 ha somerkoring van die SST 895- kultivar aangeplant. Hy het dit vir ’n opbrengs van 6 t/ha bemes, met 300 kg/ha 15:8:4-kunsmis (stikstof:fosfor:kalium) wat op die grondoppervlak uitgestrooi is voor plant, gevolg deur ’n gesplete bobemesting van 150 kg/ha 1:00:40 plus 6% swael. Die swael is belangrik vir die stimulering van die produksie van chlorofil in koringplante. “Omdat dit só ’n groot koringoes was, moes ek dit aanplant ná verskillende gewasse wat nie lank tevore nie geoes is.  Aangesien ek nog oor somerkoringproduksie leer, gebruik ek die geleentheid om te identifiseer ná watter gewas my somerkoring die beste presteer. Ek het byvoorbeeld reeds gesien die taamlike dik oesreste van ’n voorafgaande winterkoringoes veroorsaak die suboptimale ontkieming van die somerkoring. Die tekort aan grondstikstof lei tot swak syhalmontwikkeling van die somerkoring omdat dit in dieselfde oesreste vasgebind is.”

Op lande waar O’Mullane somerkoring ná sojabone en mielies aangeplant het, het hy dié lande eers met glifosaatonkruiddoder bespuit, en dan ’n skotteleg en ’n skoffel oor die grond gery om ’n fyn saadbedding te skep. Om die aanplanting van die somerkoring te bespoedig weens die potensiële skade van vroeër April-ryp, het O’Mullane met ’n strooier geëksperimenteer. Pleks van ’n saaimasjien wat ongeveer 10 ha/dag saai, het hy ’n strooier gebruik om ’n saad-en-kunsmiskombinasie op die grondoppervlak uit te strooi. Hierdie toediening is daarna deur ’n skoffel met grond bedek. Hoewel hy die 15:8:4-kunsmis gebruik het om hierdie eerste kommersiële somerkoringoes aan te plant, sal O’Mullane in die toekoms eerder ’n saaimasjien gebruik met ’n ekstra toediening monoammoniumfosfaat (MAP) in die band, om gelyke ontkieming te verseker en wortelgroei te stimuleer.

VERBETERDE GRONDGESONDHEID

O’Mullane sê hy het weer opgemerk dat grondsuurheid ’n ongunstige uitwerking op die groei van sommige van sy jongste somerkoringoes gehad het. Lande waarop ongeveer 2 t/ha kalk toegedien is voordat hulle beplant is, het uitstekende groeiprestasie met ’n goeie opbrengspotensiaal getoon. Laasgenoemde was probleemlande waarop dringend kalk toegedien moes word, maar O’Mullane beoog om in die toekoms die grondsuurheid van sy lande so laag te kry as wat ekonomies haalbaar is.

“Lande met lae organiese materiaal waarop somerkoring aangeplant word, is geneig om nie aan die verwagtinge te voldoen nie. Grondvrugbaarheid en -gesondheid is die sleutel tot die optimalisering van ons somerkoringproduksie. Koringplante het tans wortels wat net 10-15 cm diep is in grond wat ons nog verbeter, terwyl die wortels van koringplante tot 1 m diep kan groei. “Somerkoring is vatbaarder vir lae grondgesondheid, in teenstelling met mielies en sojabone, waar die effek van lae grondgesondheid minder duidelik is.”

Nog ’n manier waarop O’Mullane grondgesondheid vir die somerkoring wil regstel, is om dekgewasse tussen die oeste en aanplantings van sy kommersiële gewasse te plant. Grondvoordele wat hy met dekgewasse beoog, sluit in verhoogde biodiversiteit, verminderde ondergrondse verdigting en verhoogde organiese materiaalinhoud. Dit sal die koringplante se wortels dieper laat groei om meer vog en voedingstowwe te verkry, en die grond se vogbehoud-eienskappe verbeter. Hy gaan die saadhoeveelheid van somerkoring verhoog van 150 kg/ha tot 180 kg/ha of 200 kg/ha. Die gevolglike verhoogde hoeveelheid plante per hektaar sal hopelik vergoed vir die verminderde syhalmontwikkeling vanweë die vinnige bogrondse groei, wat veroorsaak word deur die hoër opgehoopte temperature. Hy wil ook ’n bobemesting van stikstofkunsmis vroeër toedien sodat dit reeds beskikbaar is vir die vinnig groeiende somerkoringoes wanneer die ewe vinnige syhalmontwikkelingfase begin. O’Mullane Bros het sy eerste kommersiële somerkoringoes einde Mei tot vroeg Junie geoes.

Die gemiddelde opbrengs op die lande wat die swakste presteer het, was 2-3 t/ha. Op die beste lande was dit 5,5 t/ha. Die totale produksiekoste het van R7 000-R8 000/ha gewissel. O’Mullane sê hy en sy mede-saaiboere leer saam en ruil kennis onder mekaar uit. “Ek is vol vertroue ons sal in die komende jare 7-8 t/ha kan oes sodra al die probleme wat ons geïdentifiseer het en aanpak, uit die weg geruim is.” 

NAVRAE: Mnr John O'Mullane, ep-os: omullanej@gmail.com.

Download Article


LEGAL DOCUMENTATION

Seed Order and Sale Agreement with T&C